Welkom by nemlab

Aalwurms kom in beide die grond en wortels voor. nemlab is 'n diagnostiese laboratorium wat spesialiseer in die roetine-ontledings om die aalwurms uit beide die grond en wortels te ekstraeer. Die doel van hierdie ontledings is om die aalwurms in die grond en wortels na ekstraksie, te identifiseer en te tel om sodoende ‘n aanbeveling te kan maak.

Die resultate van die roetine-ontledings wat deur nemlab gedoen word, word vervat in ‘n verslag met aanbevelings aangaande die omvang van die probleem sowel as die mees toepaslike / effektiewe behandeling vir die spesifieke infestasie(s).  Benewens hierdie diens aan produsente verskaf nemlab ook voortgesette advies en opleiding oor die handhawing van suksesvolle oplossings van aalwurmverwante probleme.  As addisionele diens aan produsente, is ‘n nemlab  nematoloog deurgans beskikbaar om besoeke te bring aan ‘n area waar aalwurm probleme eerstehandse evaluasie benodig.

nemlab se dienste is aan alle produsente wat die gesonde groei van hul plante ten doel het, beskikbaar. Die oorgrote meerderheid van die monsters wat deur nemlab ontvang word, is tradisioneel afkomstig  van die wingerd- en vrugtebedrywe. nemlab se diagnostiese dienste word verder benut deur verskillende rolspelers in die landbou-, baangras-, en kwekerysektore. 
Maatskappye wat registrasie proewe van nuwe chemiese en biologiese aalwurmbeheermiddels benodig, kan ook aanklop vir raad oor protokolle wat gevolg moet word. Daar word dan ook ontledings vir hierdie proewe deur  nemlab  gedoen.

nemlab is ‘n dinamiese onderneming wat tot dienslewering van die hoogste gehalte verbind is en bly te alle tye op hoogte van verwikkelinge in die praktyk.  nemlab streef na die voortgesette inwinning en verryking van kennis aangaande aalwurms, aalwurmverwante probleme en die suksesvolle beheer  van  aalwurms.  Ekstraksiemetodes in ons laboratorium word dus ook voortdurend daarvolgens aangepas.

As ‘n hoog aangeskrewe laboratorium, is nemlab geregistreer in terme van die Plantverbeteringswet rakende toetslaboratoriums (Wet 53 van 1976).  nemlab  is ook ingevolge die Landbou-plaagbeheerwet (Wet 36 van 1983) gemagtig om die spesiale ekstraksie tegnieke te doen vir die goue sistaalwurm (Globodera rostochiensis) en dolkaalwurm (Xiphinema index).  Toetse vir laasgenoemde is verpligtend volgens die Wingerdverbeteringskema.